Home.About.Releases.News.Functions.Contact.
Clive Bruce is in Kaapstad gebore. Hy het saam met sy broer onder die gedissiplineerde hand van hul moeder, Patricia, grootgeword – selfs op haar dag ‘n goeie operasangeres vir Pact. Sy ouers is ongelukkig geskei toe Clive nog jonk was, en sy vader is toe later met die bekende Virginia Lee getroud. Op skool het hy klassieke klavierlesse ontvang, in die skoolkoor gesing, en in die skoolorkes gespeel. Tydens sy skooldae het hy ook reeds sy eie groep gestig, en kort daarna as baskitaarspeler in verskeie groepe gespeel, waaronder Spectres, Sweet Corruption, Timepiece en Staccatos. Benewens die kitaar kan hy ook die klavier en tromme goed bespeel.

In die laat sestigerjare besluit Clive om ‘n dansorkes met skoolvriende te vorm, asook  ‘n solo-loopbaan met opnames te begin. Sy eerste plaatopnemes was vir Trutone in 1969. Hy het as jongman eers ‘n paar jaar gewerk as ‘n mediese verteenwoordiger, en toe later vir ses jaar as versekeringsmakelaar. Gedurende hierdie tyd het hy in die aande as musikant/sanger gewerk. Sy stiefmoeder Virginia Lee, toe reeds ‘n countrylegende, het na ‘n besoek aan Engeland en Holland ‘n kortspeler getiteld Sally Sunshine saamgebring en voorgestel dat Clive dit moet opneem. Hy het daarvan gehou en dit in 1971 opgeneem by haar destydse plate-maatskappy Dominant Records. Die snit was dadelik ‘n treffer op Springbokradio se nasionale Top 20-treffersparade, wat gebaseer was op amtelike landswye verkope, sowel as nommer een op die gewilde L.M. Radio Treffersparade.

Vir die volgende dekade was Clive ‘n bekende gesig by musiekkonserte en is gereeld op radio gehoor. In 1979 neem hy vir die eerste keer in Afrikaans op, en wel in duet saam met Vicki du Preez ‘n korspeler bevattende die twee snitte Te Laat Liefling en Ek Laat Dit Aan Jou Oor. In Februarie 1981 lewer hy sy tweede nasionale treffer op, If You’ve Got Nothing On Tonight. Sy gewildheid het nog steeds gegroei en hy was teen die tyd reeds ‘n huishoudelike naam. In 1983 word hy vir twee Sarie-toekennings benoem in die kategorieë Beste Sanger van die jaar en Beste Country & Western Sanger van die jaar. Nog ‘n hoogtepunt vir hom in 1983 was die optrede saam met die room van S.A. Country by die Keep-It-Country konsert by die Riverside Holiday Inn in Vanderbijlpark. Die konsert is deur meer as 10 000 fanatiese country aanhangers bygewoon. Hy het ook by elke country konsert by die Randse Paasskou opgetree. Clive het as gaskunstenaar op verskeie televisieproduksies opgetree – veral op Bobby Angel se gewilde reeks Gentle My Mind.

Verdere nasionale gewildheid en blootstelling het gevolg toe Clive as sanger en aanbieder van die hoogs suksesvolle countrymusiekprogram op televisie, Sing Country, ons tussen die jare 1985 en 1990 vermaak het. Sing Country was elke Sondagaand uitgesaai. Dit was ook nie die einde van sy dae as televisie aanbieder nie. Tussen 1993 en 1996 word Clive weer nader getrek as gasheer – die keer van die gewilde musiekvideo-versoek-program, Rewind. Die Sing Country-reeks, wat terloops tot vandag toe nog die langlopendste plaaslike musiekprogram op televisie was, is by Clive se Zillertal-restaurant in Pretoria opgeneem. Die gewilde kuierplek het ook naam gemaak as “musiekmyn’, waaruit verskeie nuwe sterre ontpop het. Elke Sondag is daar talentkompetisies aangebied met ‘n spesiaal genooide, bekende gaskunstenaar, terwyl Clive en sy orkes, Shotgun, self musiek en begeleiding verskaf het. In 1996 bereik sy album, One Last Kiss, goue status vir die verkope van meer as 25 000 eenhede.

Op die aandrang van sy aanhangers begin Clive ook weer na jare in Afrikaans sing, en sluit hy toe drie Afrikaanse snitte in op sy album Just One More Dance. Sy opname van One Last Kiss was ook aan die einde van 1996 deur die lesers van die gewilde tydskrif Keur aangewys as die gewildste Engelse liedjie deur ‘n plaaslike kunstenaar! Clive is in Oktober diè jaar getroud met sy vrou, Jennifer, en die twee is vandag nog stralend van geluk.

Tydens die Aardklop kunstefees van 2002 in Potchefstroom ontvang Clive ‘n platinum-toekenning van sy platemaatskappy, Select, vir die verkope van meer as 75 000 eenhede van sy drie albums One Last Kiss, Just One More Dans en My God Loves Me. Hy is vandag nog steeds een van die besigste en gewildste plaaslike countrysterre, en sy optredes neem hom na alle uithoeke en stede van ons land. Clive is in baie goeie gesondheid en nog steeds woonagtig in Pretoria.

Hy het behoorlik saam met die ABC van Suid-Afrikaanse musikante gewerk, en ook saam met Vicki du Preez, Joanna Field, Gene Rockwell en Vangie Coker in duet opgeneem. Clive was ook lid van OTH (Over The Hillbillies) saam met Lance James, Joanna Field, Billy Forrest, Sally Vaughn en Vangie Coker. OTH het vyf albums/CD’s vrygestel. Dit was nie altyd maklik om al vyf sangers dieselfde tyd bymekaar te kry nie as gevolg van hul eie loopbane, maar wanneer hulle bymekaar gekom het, was hul konserte baie opwindend en suksesvol.  Hulle het dwarsdeur Suid Afrika getoer, en in die gewildste en top televisie programme deelgeneem, soos Noot vir Noot. OTH het ‘n hele paar ‘TV Specials’ opgeneem en Clive se orkes Shotgun het hulle begelei.

Clive was baie aktief op die reeks ‘Springbok Hits’ waarop hy talle internasionale kunstenaars se stemme moes na-aap. Min van die publiek het geweet dat dit nie die oorspronklike opname was nie! Sy countrytreffers en gewildste snitte sluit in The Last Rose, River Of Tears, Kiss An Angel Good Morning, Devil Woman, 18 Yellow Roses, Sunflower, My God Loves Me, Lady Moonlight, Drive Safely Darling, For All The Wrong Reasons, Sally Sunshine, Crystal Chandeliers, The Streets Of Baltimore, The Tips Of My Fingers, Family Bible, If Tomorrow Never Comes, Hearts On Fire, God Must Be A Cowboy At Heart, Ruby Don’t Take Your Love To Town, I Recall A Gypsy Woman, Little Boys Prayer (die snit was in Oktober 2000 vir twee weke nommer-1 op IFM 102.2 se amptelike Country Top 10), Hillbilly Rock, Wedding Bells, Seven Spanish Angels, Red River Rosie, One Last Kiss, The Flowers Kissed The Shoes That Jesus Wore, Wings Of A Dove, If You’ve Got Nothing On Tonight, Send Me No Roses, Moving On, Broken White Line, The Cheating Game, Anyone Who Isn’t Me Tonight, The Ballad Of Scotty Smith en Only The Shadows Know.

Sy Afrikaanse opnames sluit in Te Laat Liefling, Ek Laat Dit Aan Jou Oor (beide in duet met Vicki du Preez), Kom Loof Die Here, Kan Jy Onthou Maryn?, Jy Bring Die Son, Sewe Dae Sonneskyn, Nog Net Een Kans, Kom Dans Kleine Madelein, Net Vir Jou, So Verlief Op Jou, Hemel Blou en Rose Rooi, Meisie Van My Droom, Wil Jy Weer Dans?, Sayonara, Ek Belowe, Susanna en Die Soentjie Song (Ek Is Verlief Op Jou). Sy eie komposisies sluit in River Of Tears, Just One More Dance, Please Wait For Me, He Is The King, Hello Again Sweet Darling en Meisie Van My Droom. Hy het ook die lirieke van sommige snitte geskryf waaronder Sayonara en Sewe Dae Sonneskyn. Sedert sy eerste opnames in 1969 het hy verskeie albums uitgereik o.a. Sally Sunshine (1971), Ruby (1978), If You’v Got Nothing On Tonight (1981),  Written On The Wind (1984), Forget Me Not (1985), The Tips Of My Fingers (1987), Pure Gold Vol. 1 (1989), Like An Eagle (1989), Country Style Rock, One Last Kiss (1996), River Of Tears (1997), Golden Country Hits (1998), My God Loves Me (1998), Greatest Hits, Wedding Bells (1998), Golden Country Hits Vol 2 (1998), Euro Country (1999), All The Wrong Reasons (2002) en Wil Jy Weer Dans? (2002). Diè Kitaar Dans Lekker! (2006).

Onlangs is Clive deel van die “Country Legends & Friends” C.D. waarop hy The Heaven In My Woman’s Eyes sing. Clive het toekennings van die gewilde Vaal-Driehoek Radiostasie IFM 102.2 vir beste moderne vertolking van ‘n bekende, maar ou country liedjie ontvang – Sunflower, en nommer een countrytreffer van 2006, Till The Rivers All Run Dry, sowel as Instrumentale Country Kunstenaar van 2006 bereik.

Verslag geskryf deur Marius De Vos – Uitsaaier : IFM 102.2, Vanderbijlpark.
The Spectres